Terwyl Johannesburg en Pretoria 'n miernes van bedrywigheid is van voorbereidings vir oudpres.
Nelson Mandela se staatsbegrafnis, is dit nog stil op Qunu, Madiba se dorp van herkoms.
Buiten die polisie- en militêre teenwoordigheid voor Mandela se Qunu-huis langs die N2 en die
afgesperde pad, is daar weinig teken in die landelike dorpie dat een van die grootste staatshoofde
in die geskiedenis oor 'n week hier begrawe gaan word.
Daar was Saterdag 'n gedenkseremonie in die Nelson Mandela-museum waar 'n "ewige lig" ter
herinnering aan Mandela aangesteek is en vandag is daar verskeie kerkdienste, maar daar is nog
geen groot gebaar van rou of huldeblyke soos in Houghton en Pretoria nie.
Mense van Qunu en Mvezo, Mandela se geboorteplek sowat 60km van Qunu, gaan aan met hul
alledaagse take van vee aankeer, wasgoed was en vuurmaak.
Dis 'n arm gemeenskap en mense het nie die hulpbronne om tien dae lank als te staak en te rou nie.
Die aantal besoekers begin stadigaan toeneem en mense by restaurante en winkels in Mthatha,
waar die sakesentrum is, sê dis klaar baie besiger as gewoonlik, maar die eintlike toestroming
word eers later in die week verwag.
Aan die een kant van die N2-hoofweg in Qunu is Mandela se huis waar die polisie en
militêre soldate wag hou, aan die ander kant van die pad sien 'n mens sulke landelike tonele.
Foto: Marida Fitzpatrick --- Sondag 08 Desember 2013
http://www.beeld.com/nuus/2013-12-08-nog-stil-in-qunu