Filosofie Kaffee

Lezen is vrij.
Wil je meedoen, wordt dan lid door je te registreren.
Je ontvangt dan een activerings mail.
Je bent volledig lid, als je je lidmaatschap hebt geactiveerd en kunt schrijven als je ingelogd bent.

Gedachtenwisseling over alles wat verwondert.


    Hulpdoding

    Deel
    avatar
    Caspar

    Hulpdoding

    Bericht  Caspar op 02.06.15 22:02

    Hulpdoding: sonde, of die ultimate toonbeeld van compassion?

    Bettina Wyngaard Rubrieke  ---  2015-05-13

    Reg, geregtigheid en die morele standaarde van die samelewing is soos lede van ’n dysfunctional
    familie wat op high days en holidays forseer word om ten minste beskaafd met mekaar te wees –
    nie aldag ewe suksesvol nie, maar darem so dat buitestanders nie weet daar’s onderstrominge en
    spanning nie.

    Lady Justice se beeld het al heelwat skade opgedoen, meestal as gevolg van politieke inmenging en
    korrupsie. Haar blinddoek lyk al meer of dit van deurgeskifte kaasdoek gemaak is, haar swaard is
    stomp en geroes, haar weegskaal hel erg oor ten gunste van dié met die geld en die wil om die
    sisteem te manipuleer. Ons sien dit gereeld. Bedrieërs word swaarder gestraf as moordenaars en
    verkragters, die howe word as ’n politieke speelbal gebruik, wetgewing lei soms tot
    asembenemende ongeregtigheid.

    Enigeen wat enige tyd in ons regstelsel deurbring, weet reg en geregtigheid loop nie altyd hand aan
    hand nie. ’n Sprekende voorbeeld uit ons onlangse verlede is die verskillende stukke wetgewing wat
    apartheid veroorsaak het. Dit was wettig, maar het ongeregtigheid veroorsaak eerder as om dit op
    te los. In ons demokrasie is daar natuurlik nie meer wetgewing wat mense bewustelik benadeel nie,
    maar soms kan daar sg “unintended consequences” wees. Die wetgewer dink nie altyd, in hulle
    ywer om hulle politieke base te please, die gevolge van hulle aksies deur nie. Dink byvoorbeeld aan
    die wetgewing wat aan plaaswerkers behuisingsekuriteit moes gee en die gekompliseerde, ongelyke
    magsverhoudings tussen plaaswerkers en plaaseienaars moes reguleer. Die wetgewing se baie
    edele doel was om plaaswerkers groter beskerming te gee.

    All the best laid plans of mice and men ... Wat die wetgewer nie voorsien het nie, was dat
    plaasboere oor die korttermyn eenvoudig werksvoorwaardes sou verander. Baie werkers wat
    andersins nog op plase verblyf sou gehad het, is geforseer om dorp toe te trek. Dorpsbehuising het
    nie voorsiening gemaak vir die getalle nie. Dit het, ten minste gedeeltelik, gelei tot die ontstaan
    van meer plakkerskampe, met die gepaardgaande groter druk op die infrastruktuur, rioolstelsel en
    munisipale dienste.

    Die werkers wie wel deur die wetgewing beskerm word, meestal ouer persone, het hulleself nou
    in ’n situasie bevind waar hulle huur moet betaal aan ’n teësinnige verhuurder, hulle voormalige
    werkgewer. Dit lyk ook asof ’n groot deel van die welwillendheid wat daar dalk andersins nog
    tussen boere en hulle werkers bestaan het, verlore gegaan het. Boere doen nou net die absolute
    minimum wat die wet voorskryf, en die werkers verloor ’n aantal voordele wat hulle vantevore as
    vanselfsprekend aanvaar het, soos byvoorbeeld vervoer in dorp toe om ’n dokter te sien wanneer
    hulle siek is. Magsverhoudinge het nie op enige betekenisvolle manier verander nie. Ekonomiese
    mag lê steeds by die plaasboere, en al mag wat die werkers het, is om hulle arbeid te weerhou.
    Wanneer die werkers egter te oud is om arbeid te weerhou, omdat hulle te oud is om arbeid te
    verskaf ...

    Oor die langer termyn is daar toenemend ’n beweging na gemeganiseerde boerdery, of om
    boerderye te bedryf wat nie so arbeidsintensief is nie. In die Oos-Kaap byvoorbeeld word al meer
    veeboerderye vervang deur wildsplase, wat aansienlik minder arbeid vereis. Unintended
    consequences van wetgewing wat maar net probeer keer het dat boere willens en wetens werkers
    van die plase wegjaag wanneer daar ’n arbeidstwis kom.

    Soms, egter, is die ongeregtigheid en die lyding die gevolg van ’n stilswye aan die wetgewer se
    kant, om watter rede ook al. Onlangs het die hofaansoek van advokaat Robin Stranshaw-Ford om
    sy eie lewe met behulp van ’n mediese praktisyn te beëindig, dit weer vertoonbeeld. Ons
    wetgewing swyg oor genadedood, of dan hulpdoding. In sulke gevalle word daar teruggeval op die
    gemene reg, wat genadedood as ’n misdaad hanteer. Dis ’n tipiese voorbeeld waar daar ’n
    disconnect is tussen wat in die samelewing aangaan en waarvoor wetgewing voorsiening maak. Op
    dieselfde manier het ons ’n grondwet wat van die mees liberale in die wêreld is, maar die
    menseregte-vergrype teenoor beskermde groepe is aansienlik erger as in lande met minder
    beskerming.

    Stranshaw-Ford het prostaatkanker gehad, en sy lewenskwaliteit het sodanig agteruit gegaan dat
    hy nie meer wou lewe nie. Dat hy sou sterwe as gevolg van sy siekte, en dat daar geen vooruitsigte
    op genesing was nie, was nooit betwis nie. Hy het hom na die howe gewend, omdat sy geneesheer
    andersins siviel, krimineel en dissiplinêr vervolg kon word indien hy Stranshaw-Ford sou bystaan in
    sy poging om sy lewe te beëindig.

    In ’n dramatiese wending het Stranshaw-Ford twee ure voordat die hof uitspraak kon lewer,
    gesterwe, sonder bystand van sy geneesheer. Die hof het egter voortgegaan en steeds
    toestemming verleen dat hy sy eie lewe mag beëindig – ’n strategiese handeling wat die weg
    ooplaat vir die grondwetlike hof om nou te besin oor genadedood, al is dit vir die applikant in die
    genoemde aksie nou te laat. Ek is seker daarvan die regter was deeglik bewus daarvan dat hy nie
    net oor ’n stel regsfeite beslis het nie, maar ’n besluit geneem het wat verreikende gevolge inhou
    vir die moral fabric van ons samelewing.

    Soms, soos met so baie dele van ons grondwet en handves vir menseregte, is die wette die
    samelewing se mores ver vooruit. Ander kere, soos met genadedood, moet ’n moderne hof en
    gemeenskap uit argaïese bepalings probeer sin maak.

    Die volledige hofbevel en redes is nog nie beskikbaar nie, maar ek verwag dat daar in die volgende
    paar weke opnuut heelwat vrae gevra gaan word oor die rol van die howe en die wetgewer. Wat
    behoort eerste te wees: die hoender van die morele standaarde of die eier van wetgewing wat
    gedrag voorskryf? Of is dit juis andersom? Behoort ons fokus te wees op die sacredness van lewe
    op sigself, of moet ons kyk na die gehalte van die lewe wat behoue moet bly? Het die staat die reg
    om in te meng wanneer ’n terminaalsiek, lydende persoon sy lyding wil beëindig en met ’n mate
    van waardigheid wil sterf? Is dit nie skynheilig van die staat om daai reg te probeer uitoefen
    wanneer hulle alreeds beëindiging van swangerskappe goedkeur nie?

    Daar is ’n noodgedwonge spanning tussen die rol van die wetgewer, die interpretasie van wette
    deur die howe, en die verwagtinge van die gemeenskap. Behoort die howe en die wetgewer
    voorskriftelik te wees oor wat die norme van die samelewing behoort te wees, of is hulle taak
    beperk daartoe om bestaande norme net te bevestig?

    Die stigma rondom hulpdoding, ongeag die omstandighede, gaan diep. Godsdienstige leiers begin
    met groter omsigtigheid uitsprake rondom genadedood maak. Vir die gewone persoon op straat is
    die essensie egter nog steeds: as hierdie lewe net ’n dress rehearsal vir die volgende lewe is, is dit
    nie sonde om jou eie lewe te beëindig nie? Wat gebeur in die volgende lewe met ’n selfdoder?
    Wetgewing en hofbeslissings gaan nie diepgewortelde geloof beïnvloed nie. Dis als intellektuele
    vrae, en ek verwag dat armstoelteoloë en regsprekers nog lank debat sal voer hieroor.

    Wat egter van die persone wat magteloos moet toekyk hoe ’n geliefde ly, terwyl hulle weet dat daar
    geen mediese hoop op verbetering en herstel is nie? Hulle moet toekyk hoedat hulle geliefde
    gaandeweg alle lewenskwaliteit prysgee. Is dit nie sinneloos nie? Is dit nie onmenslik nie? As ’n
    hond te siek word en te veel lewenskwaliteit verloor, word dit as onmenslik beskou om die dier te
    laat ly. Dit word as humanitêr beskou om die dier se lyding te verlig. Is dit nie ’n dubbele standaard
    om dieselfde menslikheid te weier aan ’n persoon wat helder dink en ’n besluit neem om sy lewe te
    beëindig nie? Nie almal sal daai keuse maak nie, maar hoekom moet ’n lydende persoon wat kies
    om sy lyding te beëindig, boonop ’n krimineel gemaak word?

    My pa is met longkanker gediagnoseer toe ek tien was. Vir agt maande moes ons toekyk hoedat hy
    sieker en sieker en swakker en swakker word, hoedat sy longfunksie so laag was dat hy by tye
    suurstof moes kry. Ek onthou hoe magteloos ek gevoel het wanneer hy na asem gesnak het, of
    wanneer hy nie kon eet nie. Ek onthou hoeveel gewig hy in ’n kort tydjie verloor het, hoedat sy
    hare uitgeval het as gevolg van die chemoterapie.

    Ek onthou hoe my ma gewurg het aan haar kos. Sy kon nie eet as my pa nie kon eet nie. Dit was
    waarskynlik die langste agt maande van my lewe, maar terselfdertyd ook die kortste, want ons het
    nooit geweet wanneer die einde gaan kom nie. Ons was in konstante vrees.

    Ek weet nie of my pa hulpdoding as ’n opsie sou oorweeg het as hy kon nie – ek twyfel.
    Die Stranshaw-Ford-beslissing gee my egter hoop dat ’n ander pa in soortgelyke omstandighede
    wel ’n besluit kan neem om sy lyding te beëindig. Is dit sonde? Ek weet nie. Dit kan mens net aan
    elkeen se eie gewete oorlaat.

    Elkeen behoort egter toegelaat te word om daai keuse vir hulleself te maak.

    http://huisbou.litnet.co.za/articles/hulpdoding-sonde-of-die-ultimate-toonbeeld-van-compassion/

      Het is nu 22.11.17 2:36